“Dis die vraag waarmee menige mariene-bioloog en wetenskaplike worstel,” vertel Christine Wessels van Dyer Island Conservation (DICT). “Daar word vingers gewys na die orkas wat hul verskyning in die omgewing van Kleinbaai (tussen Gansbaai en Franskraal) gemaak het en wat ‘n voorliefde vir grootwithaai-lewers het.
Die lewerlose grootwithaaie het vanaf 2017 uitgespoel, en dit stem ooreen met die tyd waarin ‘n drastiese afname in grootwithaai-getalle in die ‘Haai Hoofstad’, Gansbaai opgemerk is. Christine sê vrae word ook gevra oor of klimaatsverandering en die afname in die hoeveelheid van vis ‘n impak op die grootwithaai-getalle het.
“Hopelik sal die navorsing wat die afgelope jare by Marine Dynamics in Kleinbaai gedoen is en steeds gedoen word, onder die wakende oog van mariene bewaarder, Wilfred Chivell, tog eendag meer antwoorde as vrae oor die grootwithaai-getalle in en om die Suid-Afrikaanse kus oplewer,” het Christine gesê. Hoe dit ookal sy, sy sê vir toeriste en die bemanning van die haaiboot, Slashfin, was Sondag ‘n emosionele ervaring. Die afgelope tyd was dit meestal koper- en skerpneus-haaie wat by die eko-toerisme bote gewaar is. Sondag het groot opgewondheid geheers toe ‘n wyfie grootwithaai van sowat 2,5-meter, duidelik sigbaar en vlak naby die boot geswem het.